“twee wolwe baklei, binne jou binne my“

Jy het genoem oor jou sielkundige - ek is bly jy sien hom steeds en dat dit jou safe space is. Ek het self ook laasjaar 'n sielkundige begin sien. Almal in die Kaap het 'n sielkundige, dis amper die cool ding om te doen hier. Ek was altyd jaloers op mense met hul sielkundiges, maar ek kon dit nooit bekostig om een te sien nie. 'n Vriend het my toe eendag vertel van mediese fondse se Prescribed Minimum Benefits (PMBs) en hoe 'n sielkundige aan die fonds kan motiveer hoekom die sessies nodig is. Daardie sessies word dan uit jou PMBs betaal, wat dit meer bekostigbaar maak. So ja, ek sien hom al seker 'n jaar, en ek moet sê dit het baie gehelp om 'n ruimte te hê waar die fokus op my is en ek deur dinge kan praat.

Soos elke derde Woensdag, die oggend 11:30, stap Mika-Milan in haar sielkundige se spreekkamer in. Al sien sy hom al meer as 'n jaar, vind sy steeds die begin en einde van hul sessies vreeslik awkward. Dalk omdat sessies met 'n sielkundige dans op die rand van professionaliteit en vulnerability. Of dalk is dit net sy wat socially awkward is en elke interaksie oordink. Sy is nooit seker van wat aanvaarbaar is en wat nie. ‘n Sieldkundige is nie soos 'n vriend of kennis vir wie jy sommer net antwoord met 'n "goed dankie en met jou?" wanneer hy vra hoe dit gaan nie. (Sy het al in daardie strik getrap, toe hy antwoord met ‘n "okay dankie" - gevolg deur 'n ongemaklike lang stilte toe voor sy haarself keer om te vra "hoekom net okay?", hy is dan gewoonlik die een wat vrae vra oor haar en nie anders om nie).

In kontras met die styfheid van al hul vorige sessies, breek André die ys met ‘n aanmerking oor haar skoene sodra sy op die bank gaan sit. “Ek hou van jou skoene,“ sê hy. Mika-Milan het onlangs haar derde paar Palladium Twill boots aangeskaf en dra hulle vandag. Met haar roomkleurige boots, ‘n bypassende hemp onder ‘n blou denim baadjie en ‘n swart broek, sit sy op die bank. André se persoonlike kompliment was so uit karakter dit vang haar heeltemal onkant, maar tog verskuif dit dadelik die stywe energie en sit haar op haar gemak. Soveel so dat sy met die grootste glimlag en kinderlike opgewondenheid antwoord, "Oe! My P'ladies! Hulle my favourite skoene, ek het sommer drie pare in verskillende kleure." Toe hy net lag en niks sê nie, rammel sy verder af, “hulle is só gemaklik. Ek noem hulle my DKWs,“ André frons subtiel en dadelik dink Mika-Milan vir haarself, shit, ek klink soos iets uit die oudedoos, of hey, dalk is dit tyd vir DKW's om 'n comeback te maak. "My dans, kerk en werk skoene," bied sy as verduideliking. Dit het hom laat lag en hy antwoord, "ah, hulle is veelsydig." "Baie!”, antwoord Mika-Milan, “En so gemaklik - ses ure op die dansvloer; easy! Ek loop sommer net partykeer met hulle in die huis rond, want ek kan," praat sy haarself dieper in die verleentheid en dink, fok Mika, jy klink soos 'n Palladium verkoopspersoon, bly net stil voor jy die hele boot in jou mond druk!

André lag net oor hoe passievol Mika-Milan raak oor haar skoene en bring dan weer struktuur terug na hulle sessie. “So, wat sit ons op die agenda vir vandag?“, vra hy. “Ek weet ons het al tot vervelens toe gepraat oor WJ, en ek het gedink ek is nou oor die break-up. Maar die laaste paar weke het my woede teenoor hom weer opgevlam. Ek word kwaad wakker, ek gaan slaap kwaad. Woedend oor die seer wat hy veroorsaak het. Dis ‘n tipe woede wat in my brand soos vuur, dis asof ek dan deel word van daardie vuur en alles om my wil afbrand - vir WJ wil brand met my woorde. Amper soos ‘n Kaapse veldbrand, as hy eers vlam vat en die wind bietjie begin waai, dan versprei dit na elke aspek van my lewe. Die kleinste ding wat my housemate doen, laat my bloed kook. As ek sukkel met werk, voel dit ek kan my laptop teen die muur gooi.“

André is stil vir ‘n oomblik en dan begin hy, “Ek is seker jy ken die parabool van die twee wolwe, maar ek gaan jou steeds herinner. Die storie van die oupa wat saam sy kleinseun sit en dan vertel van die geveg tussen die twee wolwe teenwoordig in elke mens. ‘n Wit wolf en ‘n swart wolf. Die swart wolf is boos - hy leef uit woede, afguns, gierigheid, arrogansie, wrok en ego. Die wit wolf is goed - hy verteenwoordig vreugde, vrede, hoop, kalmte, vriendelikheid, deernis en geloof. Hierdie twee wolwe leef heeltyd in geveg met mekaar. Elkeen baklei om bo uit te kom. Wanneer die kleinseun dan sy oupa vra watter wolf wen, antwoord die oupa - die een wat jy voer.“

Mika-Milan, verstaan die punt wat André probeer maak, maar voor sy haar kan keer, blaker sy uit, “Dis die ding! Ek voel nie daar is net twee wolwe in my nie.“ “Oh,“ sê André onkant gevang, “wil jy uitbrei daarop?“ Shit, dink Mika-Milan, die man gaan dink ek is mal. Moet jy altyd jou mond verby praat?! Sy sien hoe sy uit hierdie sessie gesleep gaan word in ‘n straitjacket en opgesluit gaan word, vêr weg van die samelewing. Sy huiwer vir ‘n oomblik. Dalk is dit die skoen kompliment van vroeër wat haar meer oop maak om te deel. Mika-Milan haal diep asem, en begin dan.

“Wel, tot nou het ek vyf tot sewe hoof wolwe identifiseer. Daar kom soms 'n nuwe wolf by of 'n ander een kom kuier vir 'n rukkie, maar dan besef ek daardie nuwe wolf is eintlik net nuwe faset van een van die sewe bestaande wolwe. Op hierdie stadium is assosieer ek elke wolf met ‘n kleur. Daar is 'n geel, blou, pienk, groen, pers wolf asook die wit en swart wolwe. My werkende teorie is dat daar oorspronklik, soos in die parabool, twee wolwe in my was - die swart wolf en die wit wolf. Die swart wolf, ek noem haar die Skreewolf, het vir lank my lewe regeer. My interne dialoog was baie negatief en krities en dit is was die lens waardeur ek die lewe gesien en ervaar het. Met die swart wolf in beheer, was ek altyd depressief, en dit is hierdie depressie wat my op die pad gesit het om die wit wolf te vind. Op 29, na jare se soeke na ‘n oplossing - ek het verskeie medikasies, diëte godsdienste probeer. My navorsing en soeke het my toe gebring na yoga en meditasie. Ek het dit probeer en dis waar ek die wit wolf gevind het. Ek noem haar die Asemwolf, omdat ek deur die fokus wat hierdie modalities op asemhaling plaas, vir die eerste keer meer as net die swart wolf se geskree kon hoor. Soos wat ek die Asemwolf meer en meer gevoed het met yoga en meditasie, het sy gegroei, tot op so ‘n punt waar die wit en swart wolwe in balans gekom het.
Ek spekuleer verder dat toe die wit en swart wolwe ‘n ewewigspunt bereik, hulle veilig genoeg gevoel het om in gesprek te tree met mekaar. Eerder as om teen mekaar te baklei, elk om bo uit te kom, het hulle besef hulle is beide wolwe, hulle beide leef in my, hulle beide verrig ‘n doel. So het hierdie wolwe besluit, hulle kan óf teen mekaar werk óf saam met mekaar. Met hierdie nuwe perspektief het die twee wolwe in vrede begin saamleef, mekaar selfs begin geniet - soveel so dat die verhouding tussen hulle gelei het na die geboorte van die ander vyf wolwe.”





teks