"dalk het ek my verbeel, god is geel"
Daar is sekere lirieke wat soms net by jou vassteek. Woorde of frases wat so eg resoneer, dit gaan lê as waarheid in jou siel. Daai woorde word jou geloof, dit word 'n riglyn, 'n kompas, 'n sekuriteit, 'n padkaart. Elke keer wat jy dit hoor, elke keer wat jy dit herhaal, word daardie woorde deel van jou codebase, jou DNA. En wanneer woorde in jou DNA sit, begin daardie nuwe kode jou realiteit beïnvloed, regeer en daar manifesteer.
Vir Mika-Milan is Spoegwolf se lirieke "god is geel" een van daardie waarhede. Lirieke wat sy deur die jare op repeat geluister het. 'n Frase wat die eerste keer in haar realiteit opgedaag het as ‘n geel blommetjie gedurende ‘n hike, waar sy vir 12km stoksielalleen gestap en verdwaal het - die geel blommetjie het haar gehelp om haar pad terug te vind. Daarna het god meer en meer as geel opgedaag. ‘n Geel kombers was Mika-Milan se anker in ‘n oomblik van paniek, ‘n geel huis haar antwoord toe sy alleen staan op ‘n eiland staan en vra, was hierdie die grootste fout van my lewe? Selfs as sy terug kyk op haar lewe, maak dit nou vir haar sin dat sy as klein dogtertjie haar troos in 'n geel teddie kon vind en dat 'n geel hond haar beste vriend was.
As hierdie lirieke in jou siel gaan sit, raak geel 'n herinnering om diep asem te haal, geel jou troos raak in tye van vrees en onsekerheid. Dit word dan waar dat geel opdaag met 'n boodskap wanneer dit voel of god stil geraak het, dat geel 'n uitnodiging word om braaf te wees - dit gebeur dan so dat 'n geel boek, 'n geel deur, 'n geel kombers, 'n geel pilletjie, of selfs 'n geel hartjie emoji jou lewe kan verander.
Toe Mika-Milan die Donderdagaand by die huis kom en op die bank gaan sit, dink sy weer aan 'n ou vriendin, Carla. Daar het so paar jaar gelede, 'n konflik in hul vriendskap ontstaan wat veroorsaak het dat hul paaie geskei het. Sedert haar onlangse kuier in Gauteng, het Carla meer en meer in Mika-Milan se gedagtes gedraai. Die gedagtes het begin toe Mika-Milan se hart gebreek is en sy vir 'n week lank in haar ouerhuis, met oë vol trane, rondgedwaal het. Met haar hart in stukke het sy vir die eerste keer die pyn verstaan waardeur Carla destyds is toe sy en haar kêrel uitmekaar is - vir die eerste keer verstaan hoe moeilik dit is om 'n man, wie jy met jou hele hart lief het, te laat gaan. Om die drome van die toekoms wat jy saam hom gesien het, van jou hart los te maak. Die seer en teleurstelling, die ongeloof dat hy nie kan sien wat jy sien nie. Die absolute leemte en eensaamheid wat kom met jou beste vriend verloor - die een met wie jy elke dag gedeel het. Vir die eerste keer het Mika-Milan beleef hoe die verlies van 'n verhouding soos die dood van 'n geliefde kan voel, hoe moeilik en deurmekaar die grieving proses is. Een oomblik is jy so kwaad en so seer, jy probeer die persoon vir wie jy die liefste is net so seer maak as wat jy het. Die volgende oomblik probeer jy onderhandel, vir nog 'n koffie, nog 'n drukkie, nog 'n laaste oomblik saam. Vir dae sit jy net en staar voor jou uit. En dan kom daar 'n dag waar dinge weer ligter voel, jy aanvaar die verhouding is verby, dis deel van die plan, daar wag iemand meer gepas in jou toekoms. Jy glo jy het dit gemaak deur die rou proses, jy gaan slaap met vrede in jou hart en dan as jy weer jou oë oop maak, kook jou bloed en jy sit weer plat op jou gat in die middel van hierdie seer.
Mika-Milan se eie rou proses het haar oë oop gemaak vir hoe nodig Carla haar ondersteuning twee jaar terug gehad het. Mika-Milan se hart het gebreek vir Carla, die aand toe sy besef haar eie verhouding met Wynand is régtig verby - haar trane het onophoudelik gevloei, dit het gevoel hulle gaan nooit ophou nie. Mika-Milan het op haar bed gelê en huil, geruk, gesnik, in haar kussing in geskree. Haar ma het in haar kamer gekom, haar probeer troos en gevra of daar iets is wat sy vir haar kan doen. In daardie oomblik, dalk oor die pyn ondraaglik was en haar heeltemal oorweldig het, het Mika-Milan van haar ma gevra wat sy nooit voorheen kon nie, "hou my asb net vas". Dit het so onregverdig gevoel dat sy, in haar seerste oomblik, haar ma se vertroosting kon kry, wetende haar vriendin - wie sy in die steek gelaat het - nie toegang tot haar eie ma se drukkies gehad het in haar seerste oomblikke nie. Mika-Milan wou 'n paar keer uitreik na Carla, om te hoor hoe dit gaan, om te sê "ek dink ek verstaan uiteindelik 'n fraksie van jou seer". Sy kon op daardie stadium nog nie die regte woorde vind nie, gedink sy kan dalk vir Carla ‘n hoofstuk in een van haar boeke skryf. Vir eers het sy dit laat gaan met die vertroue dat die regte woorde, die regte oomblik sal kom.
Wel, soos Spoegwolf sê, "god is geel", en toe Mika-Milan die Donderdagaand weer aan Carla dink, gaan loer sy op Whatsapp of Carla dalk 'n status het. En wil jy nou meer - haar status - 'n geel hartjie emoji!
Dalk was dit uitnodiging van god, dalk was dit blote toeval, maar mens ignoreer nie sommer net so iets nie. Mika-Milan stuur toe vir Carla 'n boodskap.
Die volgende oggend toe Mika-Milan wakker word, sien sy daar is ‘n voicenote van Carla op haar foon. Met ‘n hart vol hoop, maak sy die boodskap oop en luister na ‘n vriendin se stem, wat sy nie gedink het sy weer gaan hoor nie.
Goeiemôre Mika,
Askies vir my voicenote, ek dink dit gaan 'n bietjie makliker wees as wat ek vir jou 'n opstel tik. Baie dankie vir jou boodskap, eerstens, ek waardeer dit rêrig baie. Ek - ek moet sê, ek dink nog altyd aan jou. Ek dink ek het net gevoel toe ek jou rêrig nodig gehad het, was jy nie daar nie en jy was op hierdie journey van self-discovery en ek het net gevoel ek moet terug staan.
En daar was kere wat jy daar vir my was, ek meen toe ek net uit die hospitaal uit gekom het, het jy my kom haal of ek het na jou toe gery en ek was by jou vir Kersfees. En daai tye sal ek nooit vergeet nie, en ek het nou nog die gedig wat jy vir my geskryf het toe ek in die hospitaal was. Daai is die goed wat ek vir die res van my lewe sal koester.
So, ja, geel hartjie in my wêreld beteken gebed - almal wat na aan my is of in my kring is, weet jy hoef net 'n geel hartjie te stuur en ek sal vir jou bid. So ek het net gisteraand gebed nodig gehad. Vandag is my laaste dag by MPC, na 10 jaar, ek het 'n ander werk gekry. Ek is natuurlik vrek bang, want ek haat verandering. En dit is letterlik die enigste veranderlike wat nog nie verander het vandat ek my ma, en my familie, en basies my hele ondersteunings-netwerk verloor het nie. So ja, ek stap en ek is bang ek los een monster vir 'n groter monster. Die hoof rede hoekom ek loop is mika_ou_werk en ek word konstant onder die bus gegooi, waar dit op 'n punt gekom het waar ek net nie meer kan nie. Ek was bereid om te bedank sonder om 'n ander werk te hê. En in my situasie kan ek dit nie doen nie, want ek het niemand wat my gaan uithelp nie. Maar ja, partykeer is 'n mens se seisoen verby en ek dink dit is nou maar net die onsekerheid wat voorlê.
En uhm, ja, soos ek sê, ek het net gevoel ek moet terugstaan met jou want ek het probeer groei in my geloof en sterker raak daarin en jy het net meer vasgeskop daarin. En ek is nie in 'n posisie om te oordeel nie, mens mag nie oordeel nie. Maar ons was net nie op dieselfde plek gewees nie. en dit was vir my baie moeilik, dit was nie vir my maklik nie. Maar ek het net gevoel hierdie is iets wat jy vir jouself moet doen, ek kan nie jou help daarmee nie. Want, mens kan praat en praat en praat met mense en tot hulle nie reg is om dit te ontvang nie, gaan dit letterlik by die een oor in en by die ander oor uit.
En ek voel partykeer, God werk so dat - soos hy sal homself aan jou bewys, jy het nie nodig vir mense om jou nie, en daai, daai is 'n persoonlike padjie waarmee niemand jou kan help nie. En of jy nou glo in god of jy nie glo in god nie, dit vat nie die liefde en omgee wat ek vir jou het weg nie. Dit is iets wat ek moet respekteer, maar op daai stadium het ek net gevoel, staan terug want - 💛[mense wat so aannames maak oor wat ek glo en wie ek is - sien my 'geloof' hoofstuk 🎧goliat] - en ook ek dink ek het soos gevoel, dit was 'n NIC issue - jy het saam hulle gewerk - my Excel skills is nou nie advanced nie. Ja ek kan die basiese goed doen, uhm en ek het net nie gevoel ek het daardie ondersteuning nie. Toe is dit weer 'n geval van weet jy wat, ek is beter as ek net op my eie staan, want ek kan op myself staatmaak, mense stel my teleur. Dit is waaroor dit vir my gegaan het, maar dit is in die verlede, dit is oor en verby.
Ek sal love as ons weer in kontak kan kom en bietjie gesels en weer gaan vir koffie - en ja - so dis basies in 'n neute dop wat in my lewe nou gebeur. Hoe gaan dit met jou, waar is jy? Die laaste wat ek onthou was jy in die Kaap gewees, is jy nogsteeds daar? Uhm ja, vertel my 'n bietjie. Maar ja, as ons nie dadelik weer gesels nie hoop ek jy het 'n baie baie lekker dag en dan moet jy 'n lekker naweek hê - baie baie liefde.
Mika-Milan het die boodskap van Carla ‘n paar keer geluister, en soos gewoonlik wanneer sy na lang voicenotes luister, notas gemaak. Dit was vir haar goed om te hoor dat haar vriendin op ‘n goeie plek is, ‘n nuwe hoofstuk gaan begin en dat sy oop is om weer met haar in kontak wil wees. Daardie middag, stuur Mika-Milan ‘n boodskap terug aan Carla en so, met die nuwe tegnologie van voicenotes, begin die twee vriendinne weer stadig aan hulle vriendskap bou.
Carla, hey
Dit is lekker om jou stem te hoor en dit is lekker om weer van jou te hoor. 'n Bekende, vriendin uit die verlede - voel soos 'n homecoming. Ja, maak nie saak wat tussen ons gebeur het of aan die gang was nie jy was nog altyd vir my spesiaal, en ek het nog altyd net die beste vir jou gesoek. Maak ook nie saak of ons gepraat het of nie gepraat het nie, as ek met iemand gepraat het wat in bruin_dorp was en hulle ken jou ook, dan het ek altyd gevra hoe dit gaan - of hulle in kontak is met jou ens.
Maar ja, dis regtig lekker om van jou te hoor en ek waardeer dat jou deel oor die geel hartjie - soos, dit het vir my soortvan begin, daar is 'n Spoegwolf liedjie - en ek is absoluut Spoegwolf mal, dalk bietjie obsessed - maar anyway daar is Spoegwolf lirieke wat sê "god is geel". En vandat ek die eerste keer daai lirieke gehoor het, steek dit net by my vas.
Geel is altyd vir my 'n teken dat, byvoorbeeld, ha - daar is eintlik soveel stories om te vertel - maar byvoorbeeld, ek het weer gegaan vir Ibogaine so twee of drie jaar terug. En ek was obviously super nervous. Maar ja, toe ek by die kamer instap toe, is die throw op die bed geel en het ek net soos hierdie rustigheid gekry dat, hierdie is wat ek nou nodig het en ek is op die regte plek. So geel is maar net vir my daai teken - elke keer as jy loop en jy sien 'n geel blommetjie, dan is dit net soos daai reminder dat daar is iets mooier, iets groter. Daar is iets om voor dankbaar te wees, om oor bly te wees in die dag. So, ja, geel het my net soos my - geel hartjies, geel blommetjies - is deurvleg in al my boodskappe. Maar ja, dis eintlik nogal soortgelyk aan joune, en die gebed, en net die sharing daarvan. Dit is soortvan soos om god met mense te deel, en kind of te sê, ek weet, ek sien jou, ek verstaan jou. So, ja.
Ek het sommer ‘n groot smile op my gesig gekry toe ek hoor jy maak klaar by MPC - ek weet dit was vir baie jare baie challenging gewees. En partykeer raak 'n mens net so stuck in iets wat nie werk nie, want jy is bang vir die volgende ding wat kom. Maar ek het sommer net 'n feeling dat die volgende - die verandering - gaan goed wees vir jou. En die verandering kan - dis nie noodwendig die nuwe werk nie, maar net die - daai break - in dieselfde ding oor en oor doen - soos jou selfde roetine, dieselfde pad te ry elke dag. Om daai te breek, om nou te ry na 'n nuwe werk toe, en bietjie met nuwe mense te interact, bietjie 'n nuwe perspektief in te kry - soos dit - dit kan so mooi wees. So, ja ek hoop regtig dat dit is baie mooi vir jou. En ek hoop dit is presies wat jy nodig het. Uhm, en ek hoop dit gaan goed vir jou by die nuwe werk, en jy geniet dit. En jy - jy, stap die eerste dag daar in en jy voel net tuis, of jy voel ligter, en gemaklik - soos jy stap daar in en jy is net, hier is waar ek moet wees. Ek hoop dit vir jou! En ja, asseblief laat weet my waar die nuwe werk is, wat die nuwe werk is en, wanneer jy begin.
As jy moontlik eers in Augustus begin, en jy het dalk 'n paar weke af, en jy wil dalk in die Kaap kom kuier jy's regtig welkom. Ja, ek het net die laaste - of wel nie die laaste rukkie nie - maar die laste paar jaar, dink ek daaraan - dit sal eintlik vir my nogal lekker wees as jy kom kuier, of ek die Kaap met jou kan deel, en ja, jy die Kaap kan experience. Ek is nou al twee jaar in die Kaap en die Kaap was absoluut een van die beste dinge wat nog ooit met my gebeur het. Die laaste twee jaar was moeilik. En challenging. En daar was so baie veranderinge - baie keer was ek in depressies gewees, baie keer het ek gestruggle, maar dit was van die mooiste, beste, lekkerste twee jaar sover van my lewe. Uhm, en ek voel soveel meer myself, ek het so baie van myself ontdek, ek het baie gegroei, ek is baie gelukkig, ha - ek is baie social - so dis very out of character as waaraan jy gewoond is. Maar, ek dink ook dit my gehelp om myself te ontdek, en gemaklik te raak in wie ek is.
Ek dink dit is een van die redes, van my kant af hoekom, op daardie stadium - soos ek dink ons altwee weet - ons was op verskillende plekke gewees in ons lewens, uhm, en - vir my - alles wat in bruin_dorp is, of wat connected is aan wie ek was in my jonger dae, kom met hierdie verwagting om 'n sekere persoon te wees. So, in my jonger dae, in skool, in my huis, moes ek baie onderdruk van wie ek is, om images voor te hou, om mense gelukkig te hou, om ja - ag dis sommer maar net deel van die lewe, maar soos, ek dink dit was vir my moeilik om gegrond te bly in die persoon wat almal my as ken en dan ook die persoon binne-in my te verken, en te explore. En die Kaap was regtig goed vir my in daardie opsig. Die weg van my familie was goed vir my, en die weg van skool mense - en dis nie die mense nie - dis die internal “wie ek gedink het ek moet wees” wat dit vir my moeilik gemaak het om daar te wees. Maar ja, ek gaan nie nou teveel uitbrei daarop nie. Maar ja, ek is super happy hier.
Ek het toevallig ook onlangs my werk bedank - ek vat so twee tot ses maande af om my eie ding te doen, 'n paar passion projects. Soos jy weet, ek was nooit 'n fan van nine-to-five nie, dit drain my siel. Maar ja, partykeer is dit nodig, en ek is nou op so 'n absolute bevoorregte plek, waar as alles drasties skeef loop - het ek my familie om op staat te maak. Ek het my ouers en ek het my broer, en hulle is almal nog in Gauteng en het gesê, ek is enige tyd welkom om by hulle te kom bly as dit nodig raak, so. Soos jy gesê het, jy het ongelukkig nie daai luxury, om te kan bedank sonder 'n nuwe werk nie.
En ek dink ook, iets waarmee ek vir baie lank gestruggle het was, om te sien hoe dinge sleg gaan vir die mense vir wie ek lief is, en my vriende, uhm - soos om te sien jy verloor jou ma, jy verloor jou familie, jy is op jou eie - en dan, om te weet, ek het nog steeds al hierdie blessings in my lewe. Dit het my baie, skuldig laat voel, dat dit gaan goed met my, en ek het die dinge wat jy nie meer het nie. En ek dink, op 'n manier was dit net makliker om dit soos te onderdruk en my daarvan af te sny. En ek dink, ek het in myself hierdie reël gestel dat ek, mag nie gelukkig wees as die mense om my ongelukkig is nie - jy weet ‘n tipe van‘n survivor’s guilt. Ek het 'n paar vriendinne gemaak in die Kaap, wat self uitdagende verhoudings met hulle families het. En hulle het ook nie familie ondersteuning nie en - dit was vir my soos, so healing, om myself toe te laat om gelukkig te wees en te sien dat hulle saam my gelukkig is vir die goed wat in my lewe aangaan, sonder dat ek hoef skuldig te voel, dat ek dit met hulle deel - knowing dat hulle het nie dieselfde blessings nie.
En, ja, ek leer regtig net baie van wees, en van myself, en, ek weet ook soos, ek het baie foute gemaak in die verlede en, ek kan dit nie verander nie, en, dit was die beste wat ek kon doen op daardie stadium. En ek is regtig jammer dat jy gevoel het, ek was nie daar vir jou toe jy my nodig gehad het nie - dit was natuurlik nie my bedoeling nie, dit was ook nie my intensie nie. Soos, in my kop, in my experience, was ek daar vir jou die beste manier wat ek kon wees - uhm, dit het net op daai stadium gevoel dit is nie goed genoeg nie, of dit is nie wat jy - soos, ja, ek kon nie meer gee op daai stadium nie, maar ek is regtig jammer, en as ek dit obviously nou kan anders doen - met twee jaar se wysheid agter die rug, dan doen ek dinge natuurlik anders. En ek het, ek het geleer om beter te kommunikeer, ek het geleer om, klein bietjie minder selfsugtig te wees, ek het geleer om - geleer wat vriendskappe is, hoe vriendskap lyk. So, ja ek wil net sê ek is regtig jammer, dat ek nie daar was vir jou, toe jy my nodig gehad het nie. En ek weet dit vat dit nie weg nie, maar, ja ek kan net probeer om in die toekoms beter te doen.
So, ja en dan, op die werk situasie, ek het vir jou gesê, ek hoop regtig dit gaan goed wees vir jou. Ek wil ook net sê, verandering, voel verskriklik scary, dit is een groot monster in die oomblik - maar verandering het, oor die laatste twee tot drie jaar, self, seker al van Mauritius af - het verandering net, soos, deel geraak van my lewe. En ek het so gemaklik begin raak met dit dat dit amper nou al my maatjie is - ek, ek sien uit na die volgende verandering, ek is soos yes, wat gaan verander, en watter lesse gaan ek hieruit leer, en hoe gaan dinge verander. Ek sien uit om terug te kyk en te wees soos natuurlik moes dit gebeur. Maar, ja, so, baie sterkte daarmee.
En, ja kom ons chat en kyk hoe dit gaan. Dalk kan ons deur die week bietjie bel, of op 'n stadium bietjie bel. En as ek in Gauteng is, sal ek jou natuurlik laat weet, dan kan ons gaan vir 'n koffie. En soos ek gesê het - as jy ooit voel jy kort 'n wegbreek uit bruin_dorp uit en jy wil net die Kaap kom experience, jy is welkom. Ek bly in Seepunt, saam met 'n housemate - Joané - 'n vriendin saam wie ek op universiteit was, ons het saam ingetrek hierso. So, ja ons het couches - mense is altyd welkom.
Uhm. So ja, soos weereens dankie vir die boodskap en dis regtig goed om van jou te hoor!
Hallo Mika!
Dit was so lekker om jou voicenote te luister - askies, ek het letterlik soos nou net by die werk gery. Hulle het my vroeër laat gaan. Uhm - ja dit was 'n baie emosionele dag, toe ek my speech moes gee - ek het even waterproof maskara aangesit, maar dit het nie gewerk nie. Maar, ja, ek het baie vrede en rustigheid oor die besluit. Ja, so ek gaan nou na 'n company in Johannesburg toe. Die company se naam is DE Funds - dink as jy die logo sien, sal jy dit herken. En ja, dan gaan ek 'n Senior Fund Accountant wees. Ek is baie bang - dit voel of ek nog nie opgewasse genoeg is om so 'n groot rol te vervul nie - maar ek weet, die sou nie oor my pad gekom het as daar nie 'n rede was nie.
Dan, om terug te kom op jy voicenote, eerlik waar - ek het al gehoor van Spoegwolf, ek het nog nooit een van hulle liedjies geluister nie, so, ja, asseblief stuur vir my aan die liedjie met die lirieke waarvan jy gepraat het. Ek sal beslis ook gaan kyk op Itunes en na hulle begin luister. Ek hou van liedjies met - onthou soos ons groot geword het met klopjag - liedjies met mooie woorde, met diep woorde hou ek van 💛[oe, vriendin - jy gaan my boeke love ] en deesdae kry mens dit nie meer sommer nie.
Dan is ek baie verbaas om te hoor dat jy deesdae 'n social-butterfly is! En dan wil ek net hê jy moet weet dat ek het nooit verwag jy moet wees wie jy op skool was nie. Ek het nooit 'n verwagting op jou gesit nie - ek het lief geraak vir my vriendin, wie ook al jy was. Dit was nie dat ek jou in 'n boksie geplaas het en as jy uit daardie boksie getree het gaan ek jou afskryf nie - glad nie 💚[ek weet, sien 🎧boks]. Ek is nie dieselfde mens wie ek op skool was nie - ons moet nie wees nie! Ons moet aan hou groei en evolve en dis deel van die lewe - ek, ek meen soos wie sou gedink het ek van skool is STD+, like - never in your life 🩷[😅 funny storie, sien 🎧dis_kak_maar_dit_naai]
So goed gebeur in 'n mens se lewens wat mens vorm en dis goed - dit is wat moet gebeur. Ek sou ook nooit upset geraak het of dit teen jou gehou het as jy jou geluk met my gedeel het nie - obviously soek ek die beste vir jou en ek sou saam met jou bly gewees het al het jy die blessings wat ek nie meer het nie 💚[nee ek weet - dit was nie jy nie, dit was my eie internal stuff]. My lewe het 'n anderse rigting gevat en dit is okay. Ja, dit was nie lekker nie, dit was krap maar - shit happens.
Ek is ook nie meer dieselfde mens wat jy onthou van twee, drie jaar terug nie. Daar het so baie gebeur en hierdie mag dalk 'n podcast🩵[ek moet jou vertel van ‘n podcast idee - dink ‘n paar vriende wat lekker sit en gesels in Afrikaans] raak maar ek is so dankbaar dat my ma oorlede is wanneer sy is. Sy sou nie covid oorleef het nie. My ma het gelewe vir haar werk so sy sou van haar kop af geraak het, depressief geraak het om dan drie, vier maande verveeld by die te moes sit en dan nêrens te kon gaan nie. So God het dit geweet en dis hoekom hy haar gevat het toe hy haar gevat het. Die enigste ding wat ek anders sou doen is ek sou nie dat my ma chemo gedoen het nie, soos in glad nie. Ek sou eerder dat sy 'n goeie twee maande gehad het waar sy nog kon beweeg en loop as wat sy nog vir nege, tien maande baklei het maar sy was bedlêend, daai is al wat ek sou verander het. 💚 [ma’s - sien hoofstuk 🎧ysbeer]
Ek het geen regrets dat ek weggestap het van die familie af en vir myself beter gekies het nie. Ek moes leer om te vergewe sonder om my jammer te kry. Ek meen - jy weet wat my broer aan my gedoen het en dis onvergeeflik, dis onmenslik maar ek het hom vergewe en ek wens hom niks sleg toe nie, maar ek soek hom nie in my lewe nie - so maklik soos dit. Net omdat jy bloed is gee jou nie outomaties access na my lewe toe nie. Ek het nou my chosen-family 💚[sien hoofstuk🎧ohana] en dis okay - kyk, lewe is vol challenges, en dit voel baie keer of ek nog steeds van alle kante af geklap word, en ek weet nie van waar af die klap gekom het nie, maar ek is dankbaar.
Ja, soos jy weet MPC het baie uitdagings gehad. Ek was vir baie lank ongelukkig maar, ja dinge het drasties verander. Die seun het die besigheid oorgevat - ek dink jy weet nog daarvan. Sy skoonma, het die Finance Manager geword en ek het net aanhou written warning na written warning kry vir crap. Ek het letterlik een gekry omdat ek op my foon was, toe vat ek hulle aan en sê “okay so nou diskrimineer jull teen my omdat ek nie rook nie, want elke twintig minute gaan rook almal en as ek vinnig op my foon op my boodskap reply dan kom ek in die moeilikheid. En ek kon niks doen nie want HR is ook familie, so dit was vir baie lank baie moeilik gewees.
En uhm ja, salarisse is nie aangepas vir omtrent drie jaar nie - en jy weet hoe duur het lewe geraak. Soos net na covid - dit het net aanhou erger en erger word. So ek het naderhand - my uitgawes was meer as my inkomste, so ek het in my kredietkaart ingeklim, dis al hoe ek kon survive en - ek het my kredietkaart uitgemax. So toe sit ek letterlik Februarie in die posisie van okay, ek het nie ander opsie - nie ek gaan moet bedank sodat ek my provident fund kan kry en my skuld betaal. Want dit stres my uit en ek kan nie - my kredietkaart is uitgemax, so wat doen ek nou? Dit het op so 'n punt geraak - en asseblief, ek sê nie vir jou hierdie om my jammer te kry nie, ek is dankbaar vir die tye maar - daar het weke verby gegaan wat ek nie eers kon eet nie so ek het geleer hoe om te vas.
Dit het my op my knieë gebring, maar vir my was dit belangriker om seker te maak my honde het kos en ja in hierdie tyd - sorry, ek is nou ekstra emosioneel want ek het nou net 'n groot hoofstuk afgesluit - maar ja, in hierdie tyd het ek ook begin besef wat belangrik is, wat nie belangrik is nie. En ek, ek is baie trots op jou, wil ek vir jou sê, dat jy daai keuse vir jouself gemaak het om te besluit jy wil uit Gauteng uit. Ek het al baie keer gedink soos, ek wens ek kan net skoon begin, iewers begin waar niemand my ken nie, maar ek het nie nou die luxury nie. Ek kan nie net oppak en gaan nie, want as dinge skeef loop - wie gaan na my kyk?
So, ja en, snaaks genoeg ek het selfs Mauritius oorweeg, want ek het 'n vriendin wat daar bly. Soos jy weet, Mauritius is besig om baie uit te brei en ja, daar is baie poste daar oop. En ja, daai deur is nie toe nie, ek is nou net dankbaar vir 'n nuwe begin. Ek gaan nou na a groot maatskappy toe - hulle is amper vierhonderd mense en meeste van hulle mense is al twintigplus jaar daar - so, dit sê baie - hulle kyk na hulle mense. Ja, dit is nou in Johannesburg, so traffic gaan baie rof wees maar ek het die opsie om van volgende jaar af - soos na training en as mens nou ingesettle is en al daai goed - om van die huis af te werk. So, ja dit is, daar is plek vir groei. Ek weet jy het nog altyd gesukkel met die nine-to-five, ha, dit is nie juis dat ek dit geniet nie maar, soos dit is seker maar deel van van die grootmens wêreld - rekeninge gaan nie hulle self betaal nie 🩵[Is dit though? Kan ek en my vriende nie ‘n lewe bou waar ons uit die 9-5 wêreld tree en steeds ons rekeninge betaal nie? Sien hoofstuk🎧denim] Maar ja, vertel my bietjie, wat is hierdie projekte wat jy in gedagte het, wat jy nou gaan doen sonder om te werk? 🩵[sien hoofstuk 🎧oë]
En dan eerstens wil ek vir jou sê, jammer dat ek nie daar was in die moeilike tyd, soos, wat jou laat besluit het om weer te gaan vir die Ibogaine nie - ek weet jy was nie op 'n goeie plek toe jy gegaan het die eerste keer nie, dis hoe kom jy dit gedoen het. Ek hoop dit het gehelp die tweede keer ook en dit klink of jy op 'n goeie plek is en ek is baie bly om dit te hoor. 💛[sien hoofstukke 🎧asem en 🎧as_ek_weg_is]
Ja, so ek het hierdie nie baie goed deurgedink nie, ek het vandag klaargemaak. Ek begin Dinsdag by die nuwe company. Ja, as ek dit kon oordoen sou ek wou sê, ek kan eers Augustus begin, maar dit is wat dit is - beggers can't be choosers. Uhm maar ja, ek sal definitief vir jou wil kom kuier in die Kaap - ek dink nie ek gaan verlof kry hierdie jaar nie, want ja, obviously, maar ja, miskien volgende jaar of so. En uhm, dan is ek bly jy het die ondersteuning van jou ma en boetie wat agter jou staan met jou nuwe - ek wil amper sê nuwe avontuur. En jy weet jy het hulle om op terug te val - jy is nie alleen nie. En dit is regtig great - ek, ek weet nie hoe om dit vir jou te beskryf nie, dit is nie iets wat ek mee na smag of mis nie. - soos, hierdie is my nuwe normaal en dit is okay.
Uhm, ek het ek dink jy het vir Manny ontmoet, my hondjie, ek het in die tussentyd vir hom 'n boetie gekry - Mike, so dit is Manny en Mike, maar ja hierdie twee lyfies of hart-kloppies is die rede wat, is wat my aan die gang gehou het. Ek het baie dae by die huis gekom - snot en trane uitgebars - dan het hulle my net my trane afgelek. Uhm dit was, ja, lewe is nie maklik nie - lewe is nie vir sussies nie maar, daar is soveel mooi daarin, en soos jy sê soos, jou tyd in die Kaap was nie maklik nie, maar dit was mooi, want jy het gegroei en jy het geleer, en dis die belangrikste. Eerder as wat mens die selfde mens bly - soos hoe boring moet dit nie wees nie.
Uhm, ja, ek was maar net ook besig op my eie journey - nie dat daar veel van die journey was nie, maar, ja dit, ek - partykeer is dit nodig, dat mens moet isoleer en alleen wees en dit is wat ek geleer het na Rudi. Ek kon nie verstaan soos, hoe het hierdie mens - wat kamstig lief is vir my - hoe kon hy hierdie aan my doen, en as ek nou terugkyk, is ek so dankbaar, want daar was soveel rooi vlae, wat ek geïgnoreer het, want ek het gedink dis wat liefde is. En, ek is so dankbaar want, ek sou seker nou geskei gewees het. So, ek is dankbaar dat ek gespaar is daarvoor en, uhm na Rudi was, een van die moeilikste tydperke in my lewe, want toe is ek stoksielalleen. Rudi was darem nog daar toe my ma gelewe het so ek het vasgehou aan hom, want dit is wat bekend was, en toe hy nie meer daar is nie toe is dit soos, okay shit - wat doen ek nou? En ongelukkig, wanneer mens deur 'n moeilike tyd gaan - in plaas daarvan om uit te reik na mense toe - wat ons doen, ons isoleer en ek doen dit nogals baie goed. So ek het geïsoleer, ek het nie uitgegaan nie, ek het nie gaan oefen nie. Maar daai seisoen was nodig, want dis toe ek besef okay - hierdie is my krake, dit is wat ek - hierdie is waar ek gebreek is, dit is wat ek moet reg maak. En ek het die werk ingesit en begin genees, eerder as om dit net te ignoreer of 'n pleister daaroor te plak, en ek is dankbaar vir daai tyd.
So moeilik soos wat dit was, was dit een van die mees amazingste tye, want ek het so - so sterk geraak in my geloof. Dit is vir my, dit is vir my die mooiste mooi wat ooit gekom het, en, soos ek sê, jy het 'n rede - hoekom jy gevoel het, soos jy voel - dat jy nie meer in God glo nie, en ek respekteer dit, net so moet jy respekteer, dat ek wel in God glo. En ek, is soos absoluut versot is op hom 💛[weereens, sien 🎧goliat] - dit is al wat my deur hierdie tyd gedra het. Ek het actually, soos begin die bybel lees, maar soos in rêrig lees en verstaan, en ek soek meer inligting - ek kan nie genoeg kry nie, en vir my is dit wat nodig was, dit is wat moes gebeur uit hierdie seer uit.
En, ja, dan, ek probeer nou net te dink aan alles, ek het al klaar by die huis gestop, maar ek sit nog in die kar. Vertel my van die projekte? En vir watse company het jy nou gewerk het - het jy al bedank, of werk jy nog jou kennis-tydperk terug? 🩵[weereens, sien 🎧oë]
En, ja, ek bly nog steeds op dieselfde plek, ek het oorweeg op 'n stadium om te verkoop, maar, ja, dit, om te huur, gaan my min of meer die selfde kos, so - en, as ek my plek uit verhuur - soos ek gaan nog soos moet inbetaal. So, dit gaan my duurder uitwerk, om iewers anders te gaan huur, en ek moet nog soos levies en goed betaal. So, ja, ek probeer nou maar vasbyt. Uhm ja, die nuwe plek - ek kry darem bietjie meer salaris, nie veel meer nie, maar, ja, so ek gaan my provident fund uitcash - 'n gedeelte daarvan om my krediekaart te settle, en, ja, dan moet ek soos klaarkom met dit wat ek het.
En, dan, wat was daar nog? Ek het 'n hardloper geword 🤍[ah - jy het jou asemwolf gevind] so ek hardloop elke oggend vier uur - ek het al een-en-twintig kilos gaan hardloop, races. So, ja, daai, daai is nogals nie iets wat ek ooit gedink het ek sal doen nie, maar, ek sal nooit Comrades doen nie, ek is nou nie so mal nie. Ek gym nog steeds, of het weer begin gym, altans. Ek het letterlik na Rudi soos dertig tot veertig kilos opgetel, want ek het my emosies geëet. En, tot ek begin leer het okay, soos ek kan nie dit meer doen nie - want my klere pas nie, en ek voel nie goed nie - toe het ek, ja, besluit okay, nou gaan ons beter eet, en ons gaan weer begin oefen, en, daai, happy hormone afskei. En, ja, so, dit is nog steeds 'n ongoing proses. Ek sien die sielkundige môre - ek sien hom nog steeds, elke een keer a maand, of het nou goed gaan of sleg gaan, soos, daai is my go-to plek, ek sal dit, ek dink nie ek sal dit ooit verander nie. 🩵[ek het ook ‘n sielkundige begin sien, sien hoofstukke 🎧sielkunde en 🎧die_wolf]
Uhm, ja, en, dis basies ek, vinnig opgesom. En jy? Aan jou kant? Enige liefde 🩷[haha! sien hoofstuk 🎧daar_is_net_een_man], enige nuwe avonture - behalwe nou die projekte, wat jy wil aanpak? Uhm, doen jy nog yoga, pilates, ja, vertel my bietjie meer, soos, aan jou kant, want ek het nou obviously, 'n hele nuwe Mika wat ek moet leer ken. Maar, weet net van my kant af, ek sal nooit, - ek soek die beste vir jou, soos, rêrig, soos, ek bedoel dit uit my hart uit, ek sal nooit upset wees, of, jaloers wees, as jy iets het wat ek nie het nie, soos, nooit, ooit, ooit nie - ek gun dit vir jou - deur en deur. Uhm, so, asseblief moet nooit, bang, voel, of, onseker voel, dat jy niks wat my kan deel nie, soos, ek is daar vir die goeie en die slegte. Uhm, dit is wat mens doen, jy kan nie net daar wees vir die goeie tye nie, uhm, en, ja, ek is jammer, dat ek jou ooit laat voel het, dat jy nie die goeie nuus met my kan deel nie, dit was nooit my bedoeling nie. ek het nie eers besef, dit was 'n ding nie, soos, tot ek nie nou jou voicenote geluister het nie, het ek nie geweet, soos, dit was ooit, uhm, a faktor nie. soos, rêrig glad nie. 💚[dit was nie jy nie, vriendin - my eie internal stuff] Uhm, so, ja, dit is basies ek in my neutedop,
Uhm, ek gaan nou, net, chill, ek gaan my pajamas aantrek, en, net, bietjie series kyk, saam my honde. Maar, ja, sorry vir my podcast, en, asseblief onthou vir my die liedjies aan te stuur, en, ek sien uit na'n podcast van jou - wat jy my alles vertel.
Okay Mika, baie baie liefde, en - en weet net, soos, ek is nog steeds lief vir jou, as jy my 2 uur in die oggend bel, ek gaan daar wees, dit - dit het nog nooit verander nie. Ek het net gevoel, ek moet terugstaan, en, partykeer is dit ook liefde, want, dit is daai tough love tipe effek, maar, soos. Ons kom al, laerskool, hoërskool, universiteit, groot mens lewe, soos, ek gaan nêrens heen nie en, ek wil hê jy moet weet, soos, ek gaan daar wees, om jou hand vas te hou, wanneer dit sleg gaan, om, saam met jou te celebrate, wanneer het goed gaan, saam met jou te huil, wanneer dit super sleg gaan, maar, ek gaan daar wees, weet dit net. Okay? 💚[ek weet vriendin, ek weet. Jy gaan daar wees as my ouers sterf, jy gaan daar wees - eendag wanneer ons sestig of sewintig is en ons mans dood is of ons kinders aan beweeg het - ons is susters for life]
"as ek hier uit kan kom, draai ek die wêreld om"
Soos Carla se voicenote tot ‘n einde kom, vee Mika-Milan die trane van haar gesig af. Sy gaan soek die Spoegwolf liedjie met die geel lirieke - Koma. Ah, natuurlik! Een van haar gunsteling, selfs in die top twee van haar howl_in_my_taal playlist. Sy luister weer, die lied - 'n lied wat sy altyd aan Wynand wou koppel. ‘n Lied wat sy oor en oor in Mauritius geluister het, toe sy een aand onder die volmaan, met god probeer onderhandel vir ‘n man soos hy - ‘n man elf jaar ouer as sy, ‘n man vir wie sy enige iets so gee om sy “goue jare”, sy “laaste gesonde verstand”, met hom te kan deel. Sy onthou ook die lawwigheid toe sy die emosie agter hierdie playlist aan Wynand probeer verduidelik, in presentation styl, oor die foon - in die bad nogal. Sy het vir hom probeer verduidelik hoe sy voel die lirieke "as ek hier uit kan kom, draai ek die wêreld om" beskryf presies daai grys tye wanneer sy so stuck raak in haar eie kop, haar gevoelens, haar moegheid. Hoe sy in daardie donker tye voel - as sy net nie teen haar eie biologie moes baklei nie - kon sy haar lewe, die lewe om haar, die hele wêreld inkleur en mooimaak.
Ds amper 'n emosionele tipe koma, waar die persoon "bewus" is maar vasgevang is in iets waaruit hul nie kan ontsnap nie. Hmm, wonder Mika-Milan, as 'n ligaamlike koma dan so vergelyk met haar eie grys tye, is depressie dan nie amper soos 'n siels-koma nie? Anyway, dink Mika-Milan en besef dat Spoegwolf se liedjie Koma, in haar lewe, dalk nooit bedoel was om oor 'n man te gaan nie - maar eerder oor hoe om god se stem te hoor, oor 'n vriendskap wat vir jare in 'n koma was - oor twee vriendinne wat in hul goue jare, langs mekaar in die ouetehuis gaan sit en in verwondering terug kyk na die wêreld wat hulle saam omgedraai het.