“twee wolwe baklei, binne jou binne my“
Jy het genoem oor jou sielkundige - ek is bly jy sien hom steeds en dat dit jou safe space is. Ek het self ook laasjaar 'n sielkundige begin sien. Almal in die Kaap het 'n sielkundige, dis amper die cool ding om te doen hier. Ek was altyd jaloers op mense met hul sielkundiges, maar ek kon dit nooit bekostig om een te sien nie. 'n Vriend het my toe eendag vertel van mediese fondse se Prescribed Minimum Benefits (PMBs) en hoe 'n sielkundige aan die fonds kan motiveer hoekom die sessies nodig is. Daardie sessies word dan uit jou PMBs betaal, wat dit meer bekostigbaar maak. So ja, ek sien hom al seker 'n jaar, en ek moet sê dit het baie gehelp om 'n ruimte te hê waar die fokus op my is en ek deur dinge kan praat.
Soos elke derde Woensdag, die oggend 11:30, stap Mika-Milan in haar sielkundige se spreekkamer in. Al sien sy hom al meer as 'n jaar, vind sy steeds die begin en einde van hul sessies vreeslik awkward. Dalk omdat sessies met 'n sielkundige dans op die rand van professionaliteit en vulnerability. Of dalk is dit net sy wat socially awkward is en elke interaksie oordink. Sy is nooit seker van wat aanvaarbaar is en wat nie. ‘n Sieldkundige is nie soos 'n vriend of kennis vir wie jy sommer net antwoord met 'n "goed dankie en met jou?" wanneer hy vra hoe dit gaan nie. (Sy het al in daardie strik getrap, toe hy antwoord met ‘n "okay dankie" - gevolg deur 'n ongemaklike lang stilte toe voor sy haarself keer om te vra "hoekom net okay?", hy is dan gewoonlik die een wat vrae vra oor haar en nie anders om nie).
In kontras met die styfheid van al hul vorige sessies, breek André die ys met ‘n aanmerking oor haar skoene sodra sy op die bank gaan sit. “Ek hou van jou skoene,“ sê hy. Mika-Milan het onlangs haar derde paar Palladium Twill boots aangeskaf en dra hulle vandag. Met haar roomkleurige boots, ‘n bypassende hemp onder ‘n blou denim baadjie en ‘n swart broek, sit sy op die bank. André se persoonlike kompliment was so uit karakter dit vang haar heeltemal onkant, maar tog verskuif dit dadelik die stywe energie en sit haar op haar gemak. Soveel so dat sy met die grootste glimlag en kinderlike opgewondenheid antwoord, "Oe! My P'ladies! Hulle my favourite skoene, ek het sommer drie pare in verskillende kleure." Toe hy net lag en niks sê nie, rammel sy verder af, “hulle is só gemaklik. Ek noem hulle my DKWs,“ André frons subtiel en dadelik dink Mika-Milan vir haarself, shit, ek klink soos iets uit die oudedoos, of hey, dalk is dit tyd vir DKW's om 'n comeback te maak. "My dans, kerk en werk skoene," bied sy as verduideliking. Dit het hom laat lag en hy antwoord, "ah, hulle is veelsydig." "Baie!”, antwoord Mika-Milan, “En so gemaklik - ses ure op die dansvloer; easy! Ek loop sommer net partykeer met hulle in die huis rond, want ek kan," praat sy haarself dieper in die verleentheid en dink, fok Mika, jy klink soos 'n Palladium verkoopspersoon, bly net stil voor jy die hele boot in jou mond druk!
André lag net oor hoe passievol Mika-Milan raak oor haar skoene en bring dan weer struktuur terug na hulle sessie. “So, wat sit ons op die agenda vir vandag?“, vra hy. “Ek weet ons het al tot vervelens toe gepraat oor my eks, en ek het gedink ek is nou oor die break-up. Maar die laaste paar weke het my woede teenoor hom weer opgevlam. Ek word kwaad wakker, ek gaan slaap kwaad. Woedend oor die seer wat hy veroorsaak het. Dis ‘n tipe woede wat in my brand soos vuur, dis asof ek dan deel word van daardie vuur en alles om my wil afbrand - vir WJ wil brand met my woorde. Amper soos ‘n Kaapse veldbrand, as hy eers vlam vat en die wind bietjie begin waai, dan versprei dit na elke aspek van my lewe. Die kleinste ding wat my housemate doen, laat my bloed kook. As ek sukkel met werk, voel dit ek kan my laptop teen die muur gooi.“
André is stil vir ‘n oomblik en dan begin hy, “Ek is seker jy ken die parabool van die twee wolwe, maar ek gaan jou steeds herinner. Die storie van die oupa wat saam sy kleinseun sit en dan vertel van die geveg tussen die twee wolwe teenwoordig in elke mens. ‘n Wit wolf en ‘n swart wolf. Die swart wolf is boos - hy leef uit woede, afguns, gierigheid, arrogansie, wrok en ego. Die wit wolf is goed - hy verteenwoordig vreugde, vrede, hoop, kalmte, vriendelikheid, deernis en geloof. Hierdie twee wolwe leef heeltyd in geveg met mekaar. Elkeen baklei om bo uit te kom. Wanneer die kleinseun dan sy oupa vra watter wolf wen, antwoord die oupa - die een wat jy voer.“
Mika-Milan, verstaan die punt wat André probeer maak, maar voor sy haar kan keer, blaker sy uit, “Dis die ding! Ek voel nie daar is net twee wolwe in my nie.“ “Oh,“ sê André onkant gevang, “wil jy uitbrei daarop?“ Shit, dink Mika-Milan, die man gaan dink ek is mal. Moet jy altyd jou mond verby praat?! Sy sien hoe sy uit hierdie sessie gesleep gaan word in ‘n straitjacket en opgesluit gaan word, vêr weg van die samelewing. Sy huiwer vir ‘n oomblik. Dalk is dit die skoen kompliment van vroeër wat haar meer oop maak om te deel. Mika-Milan haal diep asem, en begin dan.
“Wel, tot nou het ek vyf tot sewe hoof wolwe identifiseer. Daar kom soms 'n nuwe wolf by of 'n ander een kom kuier vir 'n rukkie, maar dan besef ek daardie nuwe wolf is eintlik net nuwe faset van een van die sewe bestaande wolwe. Op hierdie stadium is assosieer ek elke wolf met ‘n kleur. Daar is 'n geel, blou, pienk, groen, pers wolf asook die wit en swart wolwe. My werkende teorie is dat daar oorspronklik, soos in die parabool, twee wolwe in my was - die swart wolf en die wit wolf. Die swart wolf, ek noem haar die Skreewolf, het vir lank my lewe regeer. My interne dialoog was baie negatief en krities en dit is was die lens waardeur ek die lewe gesien en ervaar het. Met die swart wolf in beheer, was ek altyd depressief, en dit is hierdie depressie wat my op die pad gesit het om die wit wolf te vind. Op 29, na jare se soeke na ‘n oplossing - ek het verskeie medikasies, diëte godsdienste probeer - het my navorsing en soeke het my toe gelei na yoga en meditasie. Ek het dit probeer en dis waar ek die wit wolf gevind het. Ek noem haar die Asemwolf, omdat ek deur die fokus wat hierdie modalities op asemhaling plaas, vir die eerste keer meer as net die swart wolf se geskree kon hoor. Soos wat ek die Asemwolf meer en meer gevoed het met yoga en meditasie, het sy gegroei, tot op so ‘n punt waar die wit en swart wolwe in balans gekom het.
Ek spekuleer verder dat toe die wit en swart wolwe ‘n ewewigspunt bereik, hulle veilig genoeg gevoel het om in gesprek te tree met mekaar. Eerder as om teen mekaar te baklei, elk om bo uit te kom, het hulle besef hulle is beide wolwe, hulle beide leef in my, hulle beide verrig ‘n doel. So het hierdie wolwe besluit, hulle kan óf teen mekaar werk óf saam met mekaar. Met hierdie nuwe perspektief het die twee wolwe in vrede begin saamleef, mekaar selfs begin geniet - soveel so dat die verhouding tussen hulle gelei het na die geboorte van die ander vyf wolwe.”
Mika-Milan, pause vir ‘n oomblik en kyk na André. Hy is stil vir ‘n oomblik, sê dan net, “interessant,“ en moedig haar aan, “gaan voort, vertel my van die ander vyf wolwe.“ “Okay, die eerste wolf wat verskyn het was die geel een - die Droomwolf,” vertel Mika-Milan verder. “Vir 'n lang ruk was sy die enigste wolf binne my, of ek het gedink dat ek die Droomwolf is. Die Droomwolf is soos die goue draadjie wat die tapisserie van my wese deurvleg - my lewe, my drome bymekaar hou. Sy het ontstaan tydens, of eerder as gevolg van, my verhouding met my eks - die eerste man vir wie ek regtig lief was. Of dalk was dit ‘n kombinasie van hom en my obsessie met Spoegwolf. Hy was immers die een wat my aan Spoegwolf bloot gestel het. Ek het een aand, kort na ek my eerste boek begin skryf het, gewonder oor die oorsprong en betekenis van dié groep se lede en hul wolf name. Ek het gaan ondersoek instel, met AI natuurlik. So het ek en my GPT begin filosofeer daaroor en vra hom toe, ‘as ek 'n wolf naam moes opmaak vir my en my persoonlikheid, wat sou dit wees?’. Na 'n klomp iterasies het ons uiteindelik met een wat eg gevoel het - die Droomwolf. Sy is die deel van my, maak nie saak hoe moeilik dinge gaan of hoe moedeloos ek voel nie, steeds hoop kan bring. Steeds drome kan op toor en my daarin laat glo. Dis asof sy die brug is tussen wat moontlik is en wat bestaan in hierdie realiteit - asof sy staan met een voet in ons wêreld, hier op aarde, en een voet langs god, in ‘n ander, mooier, werklikheid. Sy sien die potensiaal sien in my, in mense, in verhoudings, in die wêreld. Sy is geseën met ‘n talent vir woorde, en dit is daardie talent, haar woorde wat sy dan gebruik om die afstand tussen die twee dimensies waarin sy leef, te oorbrug en vernou. Sy is ook fyn ingestel op ander se woorde, ‘n storie, ‘n reël uit 'n liedjie, 'n enkele gesprek kan 'n hele visie van die toekoms in haar ontsluit en dit is dan deur haar woorde wat sy hierdie visies, hierdie drome wat aan haar openbaar word, met ander kan deel."
Na haar verduideliking van die Droomwolf, stop Mika-Milan weer en kyk na André - gee hom die geleentheid om offisieel die 'mal' label op haar te plaas en die psigiatriese hospitaal te bel. Hy sê niks, knik sy kop vir haar om verder uit te brei. Might as well just go full crazy, Mika, dink sy. Met 'n bors vol suurstof, beweeg sy aan na die volgende wolwe. "Na die Droomwolf, was daar die die blou en pers wolwe - ek sien hulle as 'n tweeling. Twee sussies wat jy nie kan losmaak van mekaar nie. D die pers wolf is die Danswolf - jy kan seker raai - sy is dans mál! Sy loop nie, sy dans oral waar sy gaan. Aas daar 'n beat is, is sy aan die beweeg. Sy leef vir daai oomblikke waar die bass deur elke molekule van haar wese vibreer. Sy is die een wat verhoed dat energie vassit in die liggaam, dat dit vloei, dat dit transmuteer. Waar die Danswolf in die liggaam leef, leef haar kosmiese tweeling - die Dinkwolf, die blou wolf - in die kop. Sy is die ingenieur, die wiskundige, die PhD student. Sy - excuse the pun - dink in patrone, in stelsels, konsepte. Sy bou sisteme waarin sy en die ander wolwe kan funksioneer, uit chaos, skep sy orde. Ek sien hulle, die Dinkwolf en die Danswolf, as 'n tweeling, nie net omdat hulle dieselfde naweek gemanifesteer het nie, maar ook oor hulle die balans handhaaf tussen struktuur en vloeibaarheid. Tussen verantwoordelikheid en pret. Tussen masjien en mens. Net soos die Droomwolf, het die Dink- en Danswolf ontstaan uit verhoudings - of altans dis my hipotese - dat mans en musiek wolwe in my kan wakker maak."
Teen hierdie tyd lyk André heel geamuseerd deur haar verduideliking van die wolwe. “Kort daarna het die pienk wolf opgedaag,“ begin Mika-Milan, maar bloos en huiwer sodra sy besef wat sy nou gaan kwyt raak. “Ja?“, vra André. Sy giggel ongemaklik en vertel dan verder, "die pienk wolf is die - verskoon my taal - die Fokwolf. Oe, die Fokwolf is stout! Sy is speels, sy is sexy, sy is sensual. En nie net in die slaapkamer nie, nee, sensualiteit drup van haar af. Sy sien seks, fok, nie net as iets wat jy doen nie, maar as 'n manier van wees. Sy is konstant in gemeenskap met die lewe. Of sy nou 'n sappige waatlemoen eet of 'n hip thrust in die gym doen, die skottelgoed was of selfs net asem haal - dis sensueel, dit maak mans mal. Sy is ook die een wat ou sisteme en reëls bevraagteken. Sy loop deur die lewe, in haar seksualiteit, sonder verskoning. Sonder om jammer te sê vir wie en wat sy is. Haar hande dra krag, enige man wat gelukkig genoeg is om deur die Fokwolf aangeraak te word, stap 'n ryker mens daar weg. Sy was eers net 'n versteekte fantasie, die begeerte vir 'n massage met 'n happy ending, die smag na diep, helende aanraking. Sy was vir lank onderdruk, maar lewe gebeur toe so, dat sy, in volle glorie as wolf in my gevestig die dag toe sy die geleentheid kry om haar fantasie aan ‘n gespierde man te skenk." Mika-Milan bloos vir 'n oomblik, dan met 'n trotse stout smile voeg sy by, "Ah, die Fokwof - ek love haar.”
“Anyway,“ voor André iets kan sê oor haar intieme ontbloting, beweeg sy vinnig aan na die laaste wolf. “Die laaste wolf - die groen een - is die Huiswolf. Sy is die nuutste, en mees verrassende toevoeging tot die wolwe kring. Sy het begin verskyn na ek vir 'n week lank in Desember, 'n man in my huis, my kombuis en my bed gehad het. Sy het haar plek, volwaardig, by die tafel ingeneem die dag toe ek deur Ackermans se kinder-afdeling stap en 'n oulike paar pers bootsies my laat huil. Daardie emosionele reaksie het my so onkant gevang, dat ek daarna, op vyf-en-dertig vir die eerste keer in my lewe wou kinders hê. Die huiswolf verander ‘n huis in ‘n home - ek weet nie hoe om dit anders te stel nie. In Afrikaans het ons net een woord vir huis, maar ek dink die Engelse beskryf dit mooi as hulle onderskei tussen house en home. In elkgeval vir die Huiswolf is die kombuis haar laboratorium, plante haar vriende, elke vertrek ‘n canvas vol potensiaal. Sy is ‘n natuurlike versorger en bring liefde, sagtheid en vrede na elke vertrek en mens om haar.“
“So ja,” sluit Mika-Milan af, “dis die vyf tot sewe wolwe binne my. Of eerder 'n vinnige opsomming van hulle - en elkeen het 'n storie om te vertel.”
“watter wolf gaan wen, die een wat jy ken“
Die week na haar sessie met André, begin Mika-Milan sit met haar tesis - haar PhD in Taal Ingenieurswese. Sy begin weer deur haar studiemateriaal lees - wat is Taal Ingenieurswese? “Die ontwerp van stories, simbole en strukture om stelsels, kulture en realiteit te vorm.“ Mika-Milan dink weer aan hoekom sy vir hierdie program ingeskryf het en wat sy wil bereik met haar PhD. Sy het haar eerste boek, DROOM_NODIG, geskryf met die doel om ‘n nuwe perspektief op verhoudings te plaas. Om ‘n voorbeeld in die Afrikaanse kultuur te skep van hoe gesonde romantiese verhoudings kan lyk, van hoe die taal gebruik in daardie verhoudings ondersteunend is vir die groei van beide partye, van hoe ‘n man en vrou saam saam kan droom oor ‘n mooi lewe. Mika-Milan was nog altyd baie oplettend en gefassineerd wanneer dit kom by verhoudings - of dit nou die romantiese verhoudings, vriendskaplike verhoudings of individue se verhoudings met hulself is. Wat sy voortdurend oplet is hoe mense konflik ervaar in hul lewens as gevolg van die stories wat hulle inneem, die stories wat hulle hulself vertel oor hulself, oor die ander persoon en oor die verhoudings waarin hulle is. Sy het nog altyd geglo as hierdie stories opdateer word, as sy ‘n alternatiewe perspektief kan verskaf, sy meer empatie kan kweek in haar kultuur en dat dit groot verskuiwings kan meebring in die realiteit waarin sy leef. En. dit is hoekom sy ingeskryf het vir haar PhD in Taal Ingenieurswese, nie net om haarself beter te verstaan of haar eie realiteit te verbeter nie, maar ook dié van almal om haar.
Na sy weer die inleiding tot Taal Ingenieurswese deurgelees het, vat Mika-Milan haar eerste module - ARO711: Argetipe Ontwerp - se studie gids en begin daar deur blaai. Sy lees die inleiding van hierdie module: “Argetipes is universele patrone van menslike gedrag, emosie en identiteit wat oor eeue heen in mites, stories, godsdiens, sielkunde en kultuur voorkom. Hulle help mense om komplekse dele van hulself te verstaan deur abstrakte emosies en instinkte in herkenbare vorme te vertaal.“ Sy lees verder oor hoe hierdie term, argetipe, bekend gemaak is deur Carl Jung - een van die invloedrykste figure in moderne sielkunde. Hy het geglo het dat sekere simboliese karakters en energieë diep in die menslike psige ingebou is. Dadelik dink sy terug aan haar sessie met André en haar vertelling van die wolwe wat in haar leef. Dalk is ek nie mal nie, dalk leef hierdie wolwe nie net in my nie, wat as hierdie wolwe universele patrone is wat voorkom in baie ander mense ook, wonder sy. En dit is waar Mika-Milan die idee kry vir die eerste hoofstuk van haar tesis. Sy maak haar laptop oop en begin skryf.
Evolusie van Die Wolf
‘n Kultuur word gevorm deur die stories wat in daardie kultuur oorgedra word van een generasie na die volgende. Om ‘n kultuur te verstaan, moet die stories van daardie kultuur verstaan word. Om ‘n kultuur te verskuif, moet die stories van daardie kultuur verskuif word. Die verskuiwing van stories kan in drie maniere plaasvind:
Verwydering: die stories wat nie ondersteunend is in die rigting van die gewenste kultuur verskuiwing nie, kan verwyder word.
Verandering: die stories wat wel waarde dra, maar oor en oor vertel word op dieselfde manier, hou ‘n kultuur in stagnasie - om die waarde van daardie stories te behou en terselfdertyd ‘n kultuur verskuiwing te bewerkstellig, kan daardie stories aangepas word.
Vernuwing: in elke kultuur is daar ruimtes waar geen stories bestaan in ondersteuning van die gewenste verskuiwing nie - dit is in hierdie ruimtes waar nuwe stories geskep kan word.
Daar is ‘n bekende legende uit die Chereokee kultuur oor die twee wolwe teenwoordig in elke mens. Hierdie legende word vandag in baie kulture oorvertel. Selfs in die Afrikaanse kultuur, word hierdie legende oor en oor deur die kultuur geweef in die vorm van musiek, met Brendan Peyper se liedjie - Die Wolf. Die oorspronklike storie lei as volg:
’n Ou Cherokee leer sy kleinseun oor die lewe. “Daar woed ’n geveg binne my,” sê hy vir die seun. “Dit is ’n verskriklike geveg tussen twee wolwe. Die een wolf is swart en die ander een wit. Die swart wolf is boos - hy is woede, jaloesie, hartseer, haat, gierigheid, arrogansie, selfbejammering en ego.” Die klein seun kyk sy oupa met groet oë aan, hy gaan voort. “Die ander wolf, die wit een, is goed - hy is vreugde, vrede, liefde, hoop, kalmte, nederigheid, vriendelikheid, empatie, waarheid en geloof. Dieselfde geveg woed ook binne jou, en binne elke ander mens.” Die kleinseun dink vir ’n oomblik daaroor en vra toe vir sy oupa, “watter wolf gaan wen?” Die oupa kyk in die vuur in voordat hy antwoord, “die een wat jy voer.”
Hierdie legende van die twee wolwe is ‘n voorstelling van die dualiteit teenwoordig in elke mens. Om emosies te ervaar is deel van menswees, en dit sluit in die volle spektrum van emosies - van vreugde tot woede, van hoop tot twyfel, van liefde tot haat. Deur ‘n storie oor te vertel wat wat een wolf se kwaliteite as ‘beter’ te kalsifiseer, vorm ‘n kultuur waar die ‘slegte’ kwaliteite onderdruk of vermy word.
Emosies is soos seine in die menslike sisteem, hulle gee terugvoering oor wat in daardie sisteem gebeur asook die invloed wat die omgewing het op daardie sisteem. Wanneer ‘n persoon vreugde, hoop of liefde ervaar, kan hierdie emosies gesien word as groen liggies wat daarop dui dat die sisteem funksioneer sonder probleme. Vergelyk dit met ‘n produksielyn wat popcorn spring en verpak - terwyl…….
Lone Wolf Sindroom