"binne in my doef, doef"

Silver Somers het die eerste keer gedans op 31, vroeg na sy en haar eks uit mekaar is.  Sy was een Dinsdagaand by die gym se ‘n step-klas.  Gewoonlik kon sy bybly met die beginner en intermediate passies, maar sodra daar draaie bygevoeg word of die instrukteur te vinnig spring van beginner na advanced passies, verloor sy al haar koördinasie.  Dis wat hierdie Dinsdagaand gebeur het - sy kon nie byhou of die passies kop nie.  Toe sy die aand by die huis stop, voel sy sommer net goor en teleurgesteld in haar vermoë.  Moedeloos sit sy in die kar en huil.  Oor die radio begin Pat Benatar se 🎧all_fired_up toe speel en met haar woorde “I believe there comes a time when everything just falls in line“, raak Pat toe aan ‘n waarheid wat homself oor die laaste paar jaar in Silver se geloof ingeweef het - dat alles, met tyd, in plek val.  Pat het nie net aan Silver se hartsnare geraak met hierdie lied nie, maar die beat en die vuur het ook die 💜Danswolf in haar wakker gemaak.  Sy save die liedjie op haar foon en tap daardie Dinsdagaand so paar haar voet saam op die beat

Die volgende Dinsdagaand, weereens na ‘n half-suksesvolle poging tot ‘n step-klas, onthou Silver weer Pat se liedjie.  In haar kamer luister sy na die liedjie en begin om haar bed dans.  Na ‘n paar keer op repeat, is haar twee linker voete van die step-klas vergete, en bons Silver, vol vreugde met ‘n stel airdrums, in haar kamer rond.  In die daaropvolgende weke, kom Silver hier en daar, nog ‘n liedjie teë wat haar laat saam beweeg op die beat.  Sy vat toe 🎧all_fired_up en die nuwe dans liedjies en maak ‘n playlist - ▶️ dansdag.

Dit gebeur toe dat Silver meeste Dinsdae aande, op haar ▶️ dansdag playlist in die huis rond dans.  Een Dinsdagaand doop Silver hierdie dag en ritueel as #DinsdagIsDansdag.  Daarna het Silver vir jare, elke Dinsdagaand, haar ▶️ dansdag playlist op shuffle gespeel en dans tot 🎧all_fired_up die aand se dans-ritueel afsluit.  En so groei Silver van ‘n meisie wat geglo het sy kan nie dans nie, na ‘n vrou wat elke Dinsdagaand haar hart uit dans.

"asseblief sit sagter daardie gedoef, doef, doef"

Van kleins af het Silver in muur na muur vas gedans.  In graad 1 was sy te vet om in die ballet klas ernstig opgeneem te word tussen haar petit klasmaats.  Deur laerskool en hoërskool was sy nooit gekies vir die revue of gevra om te dans by ‘n skool-sokkie nie.  Silver het baie gekyk hoe haar ouers en familie dans op naweke, maar hier het sy geleer, ‘n vrou mag net dans as sy ‘n man het.  Selfs Silver se huis was stil en ‘n harde radio haar pa se vyand.  

"‘n doef in die club"

Van meisie wat geglo het sy kan nie dans nie, na ‘n vrou wat elke keer, wanneer sy die dansvloer betreë, wegstap met ‘n sak vol komplimente.  Vroeg na Silver Kaap toe getrek het, was sy by haar eerste music festival - op ‘n plaas in Gansbaai.  Hier dans sy vir die eerste keer voor/saam mense en toe die trompet daardie Saterdagaand, die hemel in blaas, is dit asof die sterre op haar oopmaak en diamante op haar reën - daardie aand skud sy al haar insecurities af, daardie aand - tussen mense wat almal hul harte uit dans, kry Silver toestemming om ook haar liggaam oor te gee aan die doef doef.  

Die dans-gogga het behoorlik gebyt, en Silver bevind daarna haarself gereeld op ‘n dansvloer in die stad.  ‘n Disco aand hier, ‘n Techno aand daar - Silver het gou besef, as sy haar P’ladies en sonbril aanhet - haar oë toe maak, asem haal en oorgee aan die beat, raak haar liggaam ‘n instrument ongeag van die tipe musiek wat speel. 

"afrikaans en vol plesier"

Selfs na al die aande in die clubs was daar steeds ‘n element missing vir Silver.  Dit was nie tot Synth Peter se 🎧doef_doef in ‘n shuffle oor haar pad gekom het, voor sy eers besef het wat daardie element was nie.  Haar taal!  Om te dans in haar eie taal was vir Silver ‘n tuiskoms.  Na sy reeds ‘n paar “…in my taal” playlists aanmekaar geslaan het (▶️howl_in_my_taal, ▶️droom_in_my_taal), was die volgende logiese een: ▶️dans_in_my_taal.  Silver se playlist groei vinnig, van Parrow tot Kurt, van Techno tot sy lelike stief-sussie Sokkie, van doef-doef tot untz-untz, van “meisies skut jul holle“ tot “‘n grasperk groter as god“ - Afrikaans is vol plesier!

"want ‘n doef ‘n dag hou die dokter wag"

Vroeg in 2025 het daar ‘n donker wolk oor Silver se lewe beweeg, vir weke het sy op die bank gelê sonder rigting, sonder antwoord, sonder krag.  Soos die weer maar doen, het hierdie donker wolk opgeklaar en verby beweeg.  Toe die son weer sy kop begin wys agter die donker wolk, vra Silver haarself, wat is die dinge wat my lewe inkleur, wat is die dinge waar ek my vreugde vind - die dinge wat my laat aanhou leef?  DANS! Dans is die eerste antwoord wat sy kry.  Silver wonder toe, as ek vir myself ‘n uitdaging stel om elke dag te dans, dalk sal die donker wolke my nie weer onder kry nie.  

Dit gebeur toe dat Silver daardie dag weer van die Golden Ratio hoor, sy leer dat Fibonacci se reeks na die Golden Ratio lei en dit wiskundig beskryf.  Sy het eenkeer op ‘n podcast (oor motivation en reward systems) gehoor - wanneer dit kom by nuwe gewoontes bou, is dit belangrik om jouself te reward, maar omdat ons sisteme gou gewoond raak aan patrone, is dit belangrik dat hierdie rewards, op random intervals gebeur.  Wanneer die rewards nie random is nie, bv., jy kry weekliks ‘n reward - begin jou sisteem daardie reward verwag, en verminder die satisfaksie wat jy daaruit kry.  Met dié formuleer Silver toe vir haarself die volgende uitdaging vir die komende 144 dae - 🪩DANS_DAG.

🪩DANS_DAG

Opdrag: Dans elke dag vir 144 dae
Doel: “hou die dokter wag“

Reëls:

  • Dans ten minste 5-10 min elke dag

  • Dans in Afrikaans

  • Rewards: merk elke Fibonacci dag as ‘n reward dag en beloon jouself daardie dag as jy steeds ‘n 85% dans gemiddeld handhaaf

  • Sluit 8 rus dae in - rus wanneer jou liggaam regtig nie kan dans nie

Kriteria:
Bereik 85%+ om 🪩DANS_DAG suksesvol te voltooi

Met haar nuwe uitdaging, sê sy vir haarself - jy hoef nie vir altyd te leef nie, Silver, maar probeer vir nog 144 dae dans voor jy hier uitcheck.  Sy kies haar rewards vir die uitdaging, ‘n stukkie koek, ‘n discobal, kleurvolle globes en liggies vir haar kamer - as sy elke dag gaan dans, kan sy dit netsowel doen in styl.  Die rewards neem toe in waarde soos die Fibonacci getalle groter word, ‘n kaartjie na ‘n club vir dag 89, ‘n naweek weg vir dag 144.

Die volgende oggend, staan Silver op met ‘n doef-doef in haar hart.  Sy trek haar P’ladies aan, sit haar sonbril op, druk play op haar
▶️dans_in_my_taal playlist en begin in haar kamer dans.  Dag na dag, doen sy dieselfde - vat ‘n breuk wanneer haar lyf smeek vir bietjie rus.  Die rus was seker net nodig oor sy meeste dae nie kon stop na 10 minute nie, dat sy so lekker dans en aanhou vir 30-60 minute.

Silver se wildste drome kon haar nie voorberei vir die magic wat kom met elke dag se dans nie.  Nie net het sy week na week haar Vitality oefen doelwitte bereik nie, maar sy het ook idees en drome los gedans wat haar na 144 opgewonde het om aan te hou leef.  Na 144 dae, voltooi Silver haar 🪩DANS_DAG uitdaging met 90.3%, ‘n A+ en die geboorte van die 💜Danswolf.