"mamma, mamma, mamma, mamma"

πŸ—“οΈ Desember 2025

As vyf-en-dertig jarige volwasse vrou, kan Anja nie glo sy moet haar Kaapse huisie oppak en terug trek na haar ma se huis in Gauteng nie. Soos sy boks na boks vul met die mooiste herinneringe wat sy oor die laaste twee jaar versamel het, rol die trane oor haar wange. Anja het twee jaar terug Kaap toe getrek toe sy 'n programmerings werk daar gekry het. Sy het al van kinderjare af gedroom om in die Kaap te gaan bly. Elke Januarie, na hul tien-dag gesinsvakansie in die Strand, het sy die hele N1 roete noord lank, geworstel met vrae soos hoekom kon hulle nie ook in die Kaap bly nie, hoekom is sy in 'n gesin in gebore wat in Gauteng bly, hoekom mag sy net tien dae 'n jaar by die see wees.

Twee jaar terug toe sy deur die Hugenotetonnel ry, en die groen Du Toitskloofberge teen die blou Kaapse lug haar tref, het dit gevoel dit asof sy in 'n ander dimensie in beweeg. Sy onthou nou nog daardie eerste asem, daardie sug van verligting, hoe sy gevoel het sy is uiteindelik by hÑÑr huis.

Nou dat sy die foto's van haar muur afhaal, verstaan sy hoekom sy weens uitbranding die laaste ses maande nie kon werk of ander werk kon kry nie, en nou sit sonder geld, sonder 'n huis. Die laaste twee jaar het Anja geleef! Van berge klim, tot 4am oggende op die dansvloer; van 'n lunch tyd tan op die strand tot roadtrip en festival naweke regdeur die Wes-Kaap; van die mooiste mans in haar bed tot nuwe harts-vriendinne maak - sy het dit als beleef. Met dit als, terwyl sy baie aande tot 10pm gesit en code het, kon sy net nie balans vind nie. Hoe het ek my grootste droom so opgefok, vra sy haarself, toe die trek-lorrie haar goed begin laai. Woedend vir haarself, klim Anja in haar kar en pak sy weereens die N1 roete noord aan.

"ek wil β€˜n man hΓͺ"

Iewers tussen Beaufort-Wes en Drie Susters, soos sy verby een bruin hooi baal na die ander rol, dink Anja - fok, as ek maar net 'n man in die Kaap kon ontmoet, was ek dalk nie nou oppad terug na my ma se huis toe nie. Gedurende haar twee jaar in die Kaap, was Anja op meer as dertig first dates, opsoek na die man saam wie sy die mooie Kaap kon beleef en haar lewe daar kon bou. Van die dertig first dates, het min result in tweede of derde dates. Hier en daar was 'n belowende konneksie, wat haar op die dansvloer gekry het, sy weekliks saam mee kon gaan cold-plunge of op haar stoep trappe sit en filosofeer oor astrologie. Ongelukkig het selfs hierdie konneksies geΓ«indig in ghosting of heartbreak. Naby die Gauteng grens, aanvaar Anja frustreerd haar lot, en dink, ten minste het ek die plesier ervaar met die boerjongkΓͺrels daar in die Kaap.

"wil jy dan β€˜n Hollander hΓͺ"

"nee mamma, nee"

Gedurende die eerste twee weke terug in haar ma se huis, pak Anja net die nodigste bokse uit. Sy stel haar kamer so op, dat sy gemaklik genoeg is om oor die weg te kom, maar sy het dit aan haarself en haar ouers duidelik gemaak - sy is nie daar om te bly nie. Sy beplan om die res van Desember te vat as β€˜n vakansie, Kersfees saam haar familie te geniet en dan as Januarie kom gaan sy ernstig begin werk soek en haar lewe weer agter mekaar kry.

πŸ—“οΈ Januarie 2026

Teen einde Januarie, besef Anja, sy gaan nie so vinnig op haar voete kom soos sy gehoop het nie. Sy het al oor die honderd aansoeke ingestuur vir werke en nog geen terugvoering ontvang nie. Die opwinding van weer tyd saam haar familie en vriendinne in Gauteng spandeer, het bedaar nou dat almal weer in hul eie roetines is. Na elke onsuksesvolle dag wat verby gaan, sak haar moed net meer en meer. Met niks om te doen nie en nΓͺrens om heen te gaan nie, spandeer Anja meeste dae in haar kamer, lΓͺ op haar bed en staar vir ure by die venster uit.

Een Saterdag middag kom Anja se ma in haar kamer, ongeduldig met haar lae gemoed, en sΓͺ, β€œjy kan nie net elke dag so op jou bed lΓͺ nie, hoekom doen jy nie bietjie iets nie?β€œ β€œWat moet ek doen, hier is niks om te doen nie?!β€œ, antwoord Anja haar geirriteerd. β€œNet iets, sorteer β€˜n boks uit, of plant jou plantjie uit. Hy staan al weke daar in die klein glasie, ek het mos vir jou gesΓͺ daar is β€˜n potjie vir hom buiteβ€œ, antwoord haar ma. β€œWat gaan dit help?!β€œ, raak Anja ongeduldig met haar ma sinnelose voorstelle, β€œβ€˜n Plant of β€˜n boks gaan nie my lewe fix nie!β€œ β€œDit gaan dalk nie jou lewe verander nie, maar dit gee jou iets om te doen, dit kry jou uit hierdie kamer uit.β€œ Anja rol haar oΓ« vir haar ma, haar ma draai haar, sΓͺ β€œek kan nie met jou praat as jy so is nie,β€œ en stap by die deur uit.

Anja kyk na die plantjie op haar vensterbank, β€˜n stukkie van die Monstera Adansonii wat vir die laaste twee jaar in haar Kaapse kamer gerank het. Sy het die plant by haar skoonsuster geΓ«rf, toe die skoonsuster en Anja se broer uit die Kaap getrek het. Oor die twee jaar, met die plant in haar kamer, het Anja begin voel die plant dra β€˜n magiese energie. Anja was nooit van tevore β€˜n plant mens nie - sy het nooit plante in haar huis gehad nie, maar met hierdie lewendige groen wese in haar kamer kon sy voel daar is β€˜n tipe rustige huislikheid in haar spasie. β€˜n Paar maande voor haar trek uit die Kaap, het Anja stukkies van hierdie plant afgesny en in klein glasies begin groei, net as β€˜n eksperiment om te kyk of sy groen vingers het. Die plantjies het almal mooi gegroei en teen die tyd wat Anja haar Kaapse vriendinne moes groet, het sy die idee gekry om vir elke vriendin een van hierdie plantjies te gee, β€˜n klein stukkie van haarself om by elke vriendin te los. Met die trek kon Anja nie die groot plant veilig oor β€˜n duisend-vierhonderd kilometer vervoer nie, sy het die moeder-plant by een van haar vriendinne gelos en vir haarself ook een van die glasies saamgevat terug Gauteng toe.

Later die middag, met β€˜n skuldige gevoel oor hoe sy vroeΓ«r met haar ma gepraat het, vat sy die plantjie op haar vensterbank en stap na buite. Sy kry die potjie en β€˜n tuingrafie en loop na haar ma se voortuin. In die voortuin, skep Anja van die grond in die potjie en plan haar stukkie Monstera Adansonii daarin oor. Wanneer sy klaar is vat sy die plant terug na haar kamer en plaas hom, in sy nuwe huis, weer op haar vensterbank langs die skulpe wat sy ook uit die Kaap gebring het. Sy kyk na die hartvormige draad waarom hierdie plant nou gaan rank en onthou dan hoe Mika-Milan, groen harte assosieer met die konsep van huis. Dalk, dink Anja, wanneer hierdie plant die hele hart vol gerank het, sal die man van my huis oor my pad kom.

"'n Fransman die wil ek nie, want "parlez-vous" verstaan ek nie"

Die volgende week, lΓͺ Anja weer op haar bed. Een middag scroll sy verveeld deur haar "Kaapstad Memories" folder in haar foon se galery. Sy kom af op 'n screenshot van 'n gesprek wat sy met 'n vriend gehad het, vroeg na sy haar vriendin, Mika-Milan se PhD tesis gelees het. Hulle het gepraat oor die idee dat Anja, op vyf-en-dertig, vir die eerste keer in haar lewe begin dink het sy wil kinders hΓͺ.