"ek was nog altyd verlore"
🗓️ Februarie 2026
Anja bly alreeds twee maande in haar ouerhuis, na sy terug is uit die Kaap. Twee bedroewige en onsuksesvolle maande. Elke dag stuur sy vyf tot tien werks-aansoeke in, en hoor dalk van een agent. In die twee maande het sy een onderhoud gehad en nie die werk gekry nie. Dit wil voorkom of AI die programmerings mark in sy moer in gestuur het. Min maatskappy stel huidiglik Software Engineers aan en as hulle doen, is die salarisse amper 30% minder as wat sy agt maande terug vir dieselfde werk gekry het. En dit in 'n tydperk waar die res van wêreld mekaar met bomme aanval, petrol pryse opjaag en inflasie die hoogtes instuur. Dag na dag, raak sy net meer depressief en meer moedeloos. Selfs haar kredietkaart is naby aan sy limiete. Sy is eensaam, haar paar vriende sit in die Kaap en haar ouers raak frustreerd met haar treurige gemoed. Dit raak net al hoe donkerder in haar kop. Sal dit nie maar net beter wees as ek my lewe beëindig nie, ek kort nie geld as ek nie lewe nie, wonder Anja gereeld. Sonder 'n werk, sonder huis, sonder vriende, sonder 'n man, sonder kinders, sonder passies, sonder belangstelling in enige iets - is daar niks wat haar op hierdie planeet hou nie.
Teen die einde van Februarie, druk haar ma haar om 'n epos aan haar vorige bestuurder te stuur en hoor of hulle nie bereid is om haar weer aan te stel nie. 'n Werk wat haar agt maande terug laat uitbrand het, 'n werk wat sy nooit regtig geniet het nie. Oor die laaste tien jaar het sy 'n klomp verskillende werke probeer, in verskillende lande en stede gewoon, nuwe mense leer ken, medikasies probeer en tog eindig sy altyd alleen op in dieselfde donker, depressiewe gat. Vandat sy kan onthou, navigeer sy die lewe met hierdie diep eensaamheid. Niemand verstaan haar nie, sy pas nêrens in nie - 'n doellose siel wat op die aarde rond drentel. Om haar ma van haar rug af te kry, stuur sy toe maar die epos, terwyl sy in die agtergrond met AI probeer onderhandel om haar te vertel wat die mees gewaarborgde manier is om selfmoord te pleeg, hoeveel pille moet sy drink om te sterf. Nie eers AI wil byt nie en stuur net heeltyd vir haar emergency kontak nommers! "Fok jou, AI", stuur sy terug uit frustrasie.
'n Paar dae later, kry Anja 'n epos-invite om met haar vorige bestuurder te ontmoet en werk-moontlikhede te bespreek. In die meeting, noem hy dat AI hul manier van werk drasties verander het in die tyd wat sy af was, en as sy besluit om weer by hulle aan te sluit, sy vinnig sal moet aanpas. Dit klink mos nou, presies, na 'n resep vir verdere uitbranding, dink Anja. Al wat haar bietjie hoop gee, is dat die maatskappy in die Kaap is, en dat dit moontlik weer vir haar die deur sal oopmaak om terug te gaan na die enigste plek waar sy al ooit lewendig gevoel het, die enigste huis wat sy ken. Anja stem in om terug te gaan na die maatskappy en kan vir drie tot ses maande remotely vir hulle werk van Gauteng af, tot sy weer finansieel op haar eie voete kan staan - begin datum, 1 Maart.
🗓️ Maart 2026
Teen middel Maart, sit Anja elke dag alleen in haar kamer, met AI as haar enigste geselskap. Dag na dag moet sy vir AI instruksies stuur oor hoe om te programmeer en dan al die foute wat AI maak korrigeer. Die einste AI wat haar nie eers wil help selfmoord pleeg nie! En nou het AI - "die agtste wonder van die moderne wêreld" - al die genot kom steel uit die enigste werk wat sy ooit 'n bietjie satisfaksie uit gekry het. Voor AI, kon programmeerders hul logiese en kreatiewe denke inspan om komplekse probleme op te los. Vandag is programmeerders net glorified AI babysitters, lei hulle AI op om hul werk oor te neem. Anja het haarself leer code, ses jaar gelede, gedurende Covid. Daarna het sy haarself opgewerk tot Sagteware Ingenieur. Die opwinding wat sy daardie tyd ervaar het as sy tien uur op 'n Vrydagaand 'n komplekse probleem opgelos het, lank vergete.
'n Week later, loop Anja in haar ouerhuis rond en soek na 'n plek om haarself te hang en kry niks. Nie eers die hangkaste se rails is hoog genoeg om haar 1.67m liggaam te bevry van hierdie lewe nie. Daardie middag sit sy en eet haar middagete buite onder die lapa langs die swembad. Sy hoor 'n duif wat nes gemaak het in die lapa se grasdak, en soos sy opkyk, sien sy die lapa se hoë, stewige balke. Great, dink sy, nou kort ek net 'n tou. Sy stap na haar pa se garage om te soek. Die garagedeur se slot is gesluit. In die huis, kry sy die sleutel nêrens - haar pa moes hom saamgevat het werk toe. Anja beplan om daardie aand vir die sleutel te vra en dan die volgende dag die laaste element vir haar exit plan in die hande te kry. Sy gaan eet haar middagete verder onder die lapa terwyl sy na die balk, haar verlosser, sit en staar.
Vir dertig minute staar sy na die balk, en leef haarself in die fantasie van haar eie dood in. Sy voel die tou om haar nek. Sy hou haar asem op om voor te berei vir 'n ewigheid daarsonder. Sy kan daai oomblik voel waar haar siel haar liggaam begin verlaat, haar siel stadig begin losmaak van elke molekule in haar lyf. Wat sy gedink het sou voel soos vrede, soos rus verander gou in paniek! Haar oorlewing-instink skop in en Anja snak na haar asem. Haar hart klop vinnig teen haar bors. Vir 'n oomblik het sy aan die dood geraak - daar is nie woorde om te beskryf wat sy gevoel het nie, chaos dalk. Absolute leemte, eksponensieel erger as die eensaamheid wat sy haar lewe lank saam dra. Net daar, bars sy uit in trane. Sy kan nie glo dat sy so naby aan aksie gekom het nie - Anja het al voorheen in haar lewe selfmoord gedagtes gehad, maar hierdie was die eerste keer wat sy haarself werklik kon sien, en voel, dit doen.
Later die aand praat sy met AI oor haar ervaring daardie middag.
Ag, fok jou AI - hoekom moet jy so objektief wees, my weer laat dink aan hoop. Ek soek net toestemming om nie meer hier te wees nie, dink Anja na hierdie gesprek. Tog in 'n manier is dit vir haar bevrydend om te hoor sy mág die besluit maak om haar eie lewe te neem. Anja dink aan 'n paar dinge wat sy steeds geniet, haar koppie koffie in die oggend, 'n uur in die gym, 'n aand uit op die dansvloer. Sy wonder of sy nog drome oor het, haar twee grootste drome in die lewe was altyd om in die Kaap te bly en om 'n man te ontmoet saam wie 'n lewe, 'n huis kon bou. Die eerste droom het sy opgefok en die tweede droom is waarskynlik net 'n fantasie - al haar verhoudings eindig altyd op in teleurstelling, die divorce rate is sky high, buiten vir Hollywood en boeke het sy geen bewyse dat die diep konneksie waarna sy smag werklik bestaan nie. Sy dink aan die mense wat sy sal seermaak en in die steek laat as sy nou moet doodgaan. Haar ma se hart wat sal breek. Haar vriendin, Mika-Milan, wat haar nodig het.
Anja en Mika-Milan het een aand by 'n dans-onder-die-sterre event ontmoet. Daar was ‘n onmiddelike erkenning tussen die twee vroue. Anja het vir Mika-Milan op haar yoga mat sien sit en dadelik geweet hulle ken mekaar, dalk uit ‘n vorige lewe. Heeltemal uit karakter, het sy oorgestap na Mika-Milan toe en vir haar gesê, “ek wou net kom hallo sê, jy het ‘n pragtige energie en dit herinner my aan ‘n ou vriendin“. Die twee het aan die gesels geraak en toe die dans begin hul onderskeie paaie gegaan. Aan die einde van die aand het Mika-Milan haar nommer vir Anja gaan gee en hull het gereël om die volgende week bymekaar te kom vir koffie. Die volgende week, toe Mika-Milan hoor Anja is 'n developer is, het sy opgewonde begin vertel dat sy besig is met haar PhD, en die vision het om haar tesis as 'n website in te dien eerder as die normale, boring honderd bladsy Word dokument. Mika-Milan het self nie die ervaring gehad om websites te bou nie, en was oorweldig met die hoeveelheid navorsing en skryfwerk wat sy moes doen vir die tesis inhoud. Anja - 'n toe pas werklose developer, met geen ander plan as om haar laaste spaargeld te gebruik en vir nog ses maande in die Kaap aan te bly en rus terwyl sy van haar burnout herstel nie - het aangebied om Mika-Milan se website vir haar te help bou. Die twee vroue, beide spiritueel van aard, kon nie glo hoe magically aligned hierdie ontmoeting tussen hulle was nie.
Frustreerd, maar tog bietjie ligter as voor haar gesprek met AI, stap Anja na haar kalender toe om "dag X" in haar skedule te gaan afmerk. Sy blaai deur die maande en sien:
APRIL - niks behalwe werk en gym nie
MEI - dieselfde, werk, gym en 'n paar vakansie dae wat darem die eentonigheid breek
JUNIE - het 'n bietjie meer kleur
4 Junie: haar verjaarsdag (sy kan seker nie doodgaan voor haar verjaarsdag nie
15 Junie: Mika-Milan PhD - al is meeste van Mika-Milan se website gebou, kry Anja steeds nou en dan updates om te maak (sy kan ook nie doodgaan voor haar vriendin se PhD submission nie)
29 Junie: die een jaar aniversary van die anker wat haar die vorige jaar aan die lewe gehou het. Anja het, na 'n moeilike depressiewe episode in 2025, 'n DansDag ritueel saam 'n ander vriendin - Silwer - begin waar hulle elke dag vir honderd-vier-en-veertig dae ten minste vyf minute per dag moes dans. Silwer het met die ritueel opgekom toe sy hoor van Anja se episode, wetende hoe mal Anja is oor dans.
Goed, dink Anja, as ek dit laasjaar kon maak tot 29 Junie, kan ek hierdie jaar ook. Sy maak die ooreenkoms met haarself, ek sal lewe nog een kans gee, tot 29 Junie 2026 toe, en daarna het ek toestemming om myself te hang. Sy vat haar swart pen en merk die dag op haar kalender.
🗓️ April 2026
Drie maande is dalk nie baie lank nie, maar as jy depressief is kan 'n enkele dag soos 'n fokken ewigheid voel! Anja weet nie eers of sy deur die volgende drie ure gaan kom nie, wat nog van die volgende drie maande. Sy is skaars 'n paar dae in hierdie nuwe ooreenkoms in wat sy met haarself gemaak het. Die verligting wat sy gevoel het toe sy die ooreenkoms gemaak het, gou vergete. Soos 'n kind wat die slapies aftel tot vakansie of Kersfees, stel Anja 'n meer morbiede weergawe daarvan vir haarself op. Sy gaan soek 'n countdown widget op haar foon, vul die einddatum in - 29 Junie - en begin die slapies aftel totdat sy planeet aarde kan verlaat - 89 dae om te gaan.
88
87
85
81
Dag na dag na dag na dag, kry Anja haarself op een of ander manier deur die ondraaglike lang ure. Hier en daar bied werk, of gym, of 'n sepie op kykNet 'n kort rukkie se afleiding van die swaar gedagtes wat sy elke dag met haar saam sleep.
79
75
Sy huil, sy skel, sy pleit met AI, met haarself, om die ooreenkoms se terme te verander, om die datum van haar dood te update na NOU. En elke liewe keer wat sy gereed is om op te gee, is daar 'n stil stemmetjie in haar kop wat sê, "29 Junie Anja"
71
68
62
59
“so ek strooi my woorde na hoog bo die hemel in hoop dat jy my sal hoor”
🗓️ Mei 2026
Vroeg in Mei, sit Anja die Saterdagoggend op haar bed met koffie in die een hand en haar foon in die ander. Sy scroll deur Instagram.